DIE FAK STEL HULPPROGRAM VIR MONUMENTE BEKEND

 

JY KAN HELP 

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) stel as deel van sy geskiedenisfonds ’n omvattende hulpprogram ter ondersteuning van Afrikanermonumente bekend om hulle finansiële oorlewing te midde van die Covid-19-pandemie te verseker.

Volgens dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK, “is kultuur en monumente vir baie mense ’n lae prioriteit te midde van die baie uitdagings wat ons land tans in die gesig staar. Tog is monumente inspirasieplekke wat ons sigbaar herinner aan die vele uitdagings wat ons voorgeslagte met onderskeiding te bowe gekom het. Elke monument wat deure moet sluit, is nie net ’n langtermynverlies vir Afrikaners se kultuurhistoriese erfenis nie, maar ’n kultuurhistoriese ramp.”

Deel van die hulpprogram is nie net finansiële steun uit die FAK se geskiedenisfonds aan monumente in nood nie, maar ook die uitreik van kultuurkaarte aan FAK-vriende. Deur middel van kultuurkaarte kry FAK-vriende agtergrondinligting oor verskeie historiese plekke, ’n roetekaart na monumente en ook afslag met toegangsgelde. 

“Die staat gaan nie ons monumente help nie. Afrikaners sal self verantwoordelikheid moet aanvaar om in krisistye ons geskiedenis vir ons nageslag te bewaar. Die kultuurkaarte is nie net praktiese bemarkingshulp aan ons monumente om meer voete te lok nie, maar saam met finansiële ondersteuning ’n daadwerklike poging om ons erfenis se deure oop te hou.”

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Die Voortrekkermonument in Pretoria is een van die instellings op die FAK se prioriteitslys. Weens die verlies aan toerisme-inkomste omrede die nasionale staat van inperking is dié instelling een van die plekke wat moontlik sy deure kan sluit.

Volgens dr. Christo Pretorius, voorsitter van Die Voortrekkermonument-direksie het dié nasionale erfenisbate en ikoniese Afrikanermonument wat deur Gerard Moerdyk ontwerp is en in 1949 geopen is, soos alle bewarings-, toeriste- en opvoedkundige instansies die afgelope twee maande bloed gesweet om te oorleef. Die Voortrekkermonument is ’n gewilde toeristebestemming vir plaaslike en buitelandse besoekers en sal waarskynlik een van die laaste plekke wees wat weer ten volle sal mag funksioneer met die geleidelike verslapping van die inperkingsregulasies.

 

Die FAK het ’n lang historiese verbintenis met die Voortrekkermonument. Op 4 April 1931 is die Sentrale Volksmonumentekommissie as die eerste komitee van die FAK in Bloemfontein gestig. Die doel van die kommissie was om die Voortrekkermonument te bou. Die eindresultaat van die FAK-kommissie was die Voortrekkermonument in Pretoria, die Bloedriviermonument, die Voortrekkermonument in Winburg en die Retief-standbeeld by die Geloftekerk in Pietermaritzburg. 

Volgens Langner is een van die FAK se geskiedenisfonds se hoofoormerke om gemeenskappe en kultuurorganisasies te ondersteun in hulle groot taak om plaaslike erfenisterreine te bewaar en te onderhou. Daarby beywer die FAK hom ook vir die herstel en bewaring van bestaande Afrikanermonumente asook die ontwikkeling van nuwe monumente om ons geskiedenis te vier.

Onder die vaandel van die geskiedenisfonds, het die FAK verlede jaar begin om nuwe Afrikanermonumente te bou. Die eerste beelde wat opgerig is, is ’n beeld van dr. NJ van der Merwe, ’n stigterslid en eerste voorsitter van die FAK en die Penkop-beeld, wat op 13 Junie by die FAK se Udolpho Rivierplaas naby Parys in die Vrystaat onthul is. Vanjaar gaan die Sorg-beeld op 16 Junie by die Irene-konsentrasiekamp in Centurion onthul word en ’n Vrouebeeld ter ere aan die ma’s en dogters wat uit die ashope van die verskroeide aarde ’n nuwe toekoms begin bou het. Die FAK sal ook bystand verleen aan die Kroonstad Konsentrasiekamp, Kerkenberg, Smutshuis en ander Afrikanermonumente en erfenisterreine wat vir hulp aansoek doen.

 

JY KAN HELP 

Vandag rus die verantwoordelikheid op die skouers van oupas en oumas, pa’s en ma’s, gemeenskappe en kultuurorganisasies om geskiedenis aan die volgende geslag oor te dra. Die FAK wil graag gesinne, families en gemeenskappe bystaan om geskiedenis en monumente vir die toekoms te bewaar.

Voltooi die vorm hierbo om die FAK se geskiedenisfonds prakties te ondersteun.

Ondersteun ons

Dankie, ons skakel jou binnekort!