Hugenotemonument, Franschhoek

 

đź“Ť Koördinate: -33.9144564,19.1218249

​

Die herroeping van die Edik van Nantes in 1685 en die daaropvolgende vervolging van die Protestante het daartoe gelei dat ongeveer 200 Franse gesinne hulle aan die Kaap gevestig het. Die Hugenote was, soos die Hollandse koloniste, Calviniste – maar in ’n sterker graad.

 

Die godsvertroue in ’n almagtige, liefdevolle Vader, wat een van die wesenskenmerke van die Afrikaner se geloof vorm, is deur die Hugenote versterk.

 

Vandag staan daar in Franschhoek dié indrukwekkende monument ter ere van ons Hugenote-stamouers en hulle aandeel in die volkswording van die Afrikaner.

 

Op 11 Desember 1936 is op ’n vergadering, wat onder voorsitterskap van senator FS Malan in Kaapstad plaasgevind het, besluit om in 1938 ’n groot herdenkingsfees te hou om die vestiging van die Franse Hugenote aan die Kaap 250 jaar tevore te herdenk. Terselfdertyd het die vergadering besluit dat ’n monument vir die Hugenote opgerig sou word om hulde te bring aan hulle veelseggende bydraes op godsdienstige, kulturele, sosiale en politieke gebied.

 

Nadat verskeie ontwerpe vir die monument ontvang is, het die komitee besluit om ’n ontwerp van die bekende beeldhouer Coert Steynberg, van Pretoria, met ’n ontwerp van meneer JC Jongens, ’n Nederlandse argitek van Kaapstad, te kombineer. Die sentrale motief van die monument sou bestaan uit ’n vrouefiguur met die aardbol onder haar voete (mnr. Steynberg se ontwerp), terwyl meneer Jongens se ontwerp van ’n suilegalery, ’n paar lugboë en ’n watervywer as agtergrond en voorgrond sou dien.

 

Die hele monument is in Paarlse graniet uitgevoer onder toesig van die Kaapstadse argitek CP Walgate. Die bouwerk is aan die firma JR McKillop, van Kaapstad, opgedra, terwyl die sentrale  vrouefiguur deur Coert Steynberg self uitgebeitel is.

 

Die monument is teen die agtergrond van die Drakensteinberge opgerig op ongeveer vier hektaar grond wat geleë is aan die bopunt van Hugenoteweg, die hoofstraat van Franschhoek. Die monument het ongeveer £18 000 (R36 000) gekos.

 

Die monument, wat in 1947 voltooi is, is op 12 April 1948 ingewy. Die hoofspreker by dié geleentheid was dr AJ van der Merwe, Moderator van die Ned. Geref. Kerk in Kaapland. Die monument is deur ’n direkte afstammeling van die Hugenote-voorvaders, die 82-jarige Hester Beatrix Hugo (tant Hessie), die oudste dame op Franschhoek, onthul.

 

Die Hugenote-monument is om sy simboliese betekenis een van die belangrikste monumente in Suid-Afrika. Die vrouefiguur is eerstens die verpersoonliking van veral die gees van godsdiens- en gewetensvryheid van die Franse Hugenote. Dit word deur die Bybel in haar regterhand, en die verbreekte ketting in haar linkerhand, aangetoon. Tweedens versinnebeeld die vrouefiguur die vlug, in geestelike sin, van die vrygeworde Hugenote-gees na Suid-Afrika. Sy staan bo-op die aardbol van Frankryk, en haar blik is gerig op ’n grootste visioen van komende dinge in die verre toekoms. Op haar kleed is die patroon van die nasionale blom van Frankryk, die Franse lelie. Dit simboliseer die feit dat Frankryk baie van sy seuns en dogters verloor het toe hulle uit die land gevlug het. Op die see, ten weste van die reliëfkaart van Afrika, is ’n reliëfmodel van een van die skepies waarmee die Hugenote na die suidpunt van Afrika gereis het. In die suidhoek, waar hulle hul gevestig het, is die simbole van hulle godsdiens (die Bybel), kuns en kultuur (die harp), land- en wynbou (die koringgerf en druiwestok) en nywerheid (die spinwiel) te sien. Op die gedenkrol onderaan staan die jaartal 1688, wat die koms van die eerste Hugenote aandui, en op die voetstuk staan DIE HUGENOTE.

 

Die bouwerk wat as agtergrond en voorgrond van die monument dien, bestaan uit die volgende: drie magtige lugboë wat deur vier slanke pilare van 12 m hoog gevorm word en die sinnebeeld is van die goddelike Drie-eenheid; die middelste boog wat deur ’n son en ’n kruis bekroon word en die Christelike geloof en Son van Geregtigheid voorstel, ’n suilegalery in die vorm van ’n halfsirkel, en op die voorgrond ’n vywer van 12 m by 18 m met waterlelies. Die watervywer en die suilegang is albei simbolies van ongestoorde gemoedsrus en sielevreugde ná veel stryd en woeling.

​

​