Hildebrand-monument

 

đź“ŤWaar: Op die Yzerfonteinpad, net na die begraafplaas, Darling | Koördinate: -33.3218836,18.3746351

 

Teen die einde van 1901 het die kommando’s van generaals Manie Maritz en Wynand Malan in Kaapland rondgetrek en veral in die rigting van die noordweste beweeg. Vroeg in November was hulle digby Darling, later by die Kariegarivier in Kaapland. Op 11 November het twee afdelings onder veldkornette J Rudolph en CP Hildebrand opdrag gekry om die dorpie Darling aan te val. Omdat dit Sondag was, weier Hildebrand. Veldkornet Johannes Rudolph vind egter dat die dorpie ontruim was en die volgende dag sluit veldkornet Hildebrand en sy manne by hulle aan en bestee die tyd om inkopies te doen. Daardie middag, omtrent twee-uur, het die Engelse soldate aangeval en in die slag wat gevolg het, is veldkornet Hildebrand, ’n seun van Lichtenburg, noodlottig gewond.

 

Hy is op die plaas Kraalbosdam begrawe, waar ’n eenvoudige marmersteen door Afrikaansche vrienden en vriendinnen, opgerig is.

 

In Julie 1937 het meneer JA Smith, ’n Kaapse rebel uit die Anglo-Boereoorlog, wat toe ook aan die geveg op Kraalbosdam deelgeneem het, die Hildebrand-graf besoek wat toé al tekens van verwaarlosing en verval getoon het. Meneer Smith, indertyd ’n redaksielid van Die Burger, het dit in die koerant gerapporteer en spoedig reaksie ontlok toe ’n Hildebrand-grafkomitee op 10 Augustus 1937 gestig is. Terselfdertyd het die komitee die reg van meneer MJ Loedolff, die eienaar van Kraalbosdam, bekom om daardie jaar die Geloftefees en ’n kranslegging by die Hildebrand-graf te hou.

 

Ten einde wyer belangstelling op te wek, is die oudstryders van die Sandveld en Noordwes-Kaapland na die verrigtinge uitgenooi. Vyf en veertig mense, onder wie generaals Manie Maritz en Wynand Malan, het die feesvieringe op 16 Desember 1937 bygewoon. Die Suidelike Oudstrydersbond is gestig, wat voortaan aktief by fondsinsameling betrek sou word.

 

Die bestuur van die Oudstrydersbond het besluit om ’n monument by die Hildebrand-graf op te rig.

 

Vroeg in 1939 het ’n seun van meneer JA Smith, ’n argitek in Kaapstad, opdrag ontvang om die Hildebrand-monument te ontwerp. Smith se ontwerp, ’n dertien-meter-hoë gedenknaald van betonblokke, wat aan die kop van die graf geplaas sou word, is in Mei 1939 voltooi en deur die Monumentkomitee goedgekeur. Die hoeksteen van die monument is op 16 Desember 1939 deur twee lede van die Voortrekkerbeweging, Anna van Schalkwyk en Cillie Joubert, gelê. Die spreker by dié geleentheid was generaal Wynand Malan.

 

Die fondsinsamelingsveldtog het intussen voortgegaan en uiteindelik is ’n totaal van £324-10-3 (R649) ingesamel. Daarby is ook ’n lening van £200 (R400) by die Malmesburyse Eksekuteurskamer aangegaan, ’n stap wat geblyk het onnodig te wees daar die oprigtingskoste slegs £124-10-0 (R249) beloop het. Die argitek het sy deel van die werk kosteloos verrig.

 

Presies ’n jaar na die hoeksteenlegging is die monument onthul. By dié geleentheid op 16 Desember 1940, was meer as 12 000 mense teenwoordig. Doktor DF Malan het die hooftoespraak van die dag by die monument gelewer en beklemtoon dat die doel van die gedenknaald drieërlei van aard is. Dit bring hulde aan ’n dapper, maar taamlik onbekende man, en dit bring ook hulde aan die Kaaplandse Rebelle, in die besonder die 150 man wat onder bevel van Hildebrand die verste in die rigting van Kaapstad deurgedring het in ’n stadium toe die oorlog menslikerwys reeds verlore was. Verder dui die monument aan dat daar toe reeds eenheid onder die Afrikaners was – Hildebrand was self ’n Transvaler en onder hom was daar Kaaplanders en ook Vrystaters.

 

Na die inwydingsrede is die vier hoekstene van die gedenknaald onthul deur mevrou MJ Loedolff, meneer JA Smith as waarnemende kommandant-generaal van die Ossewabrandwag en twee Voortrekkers, Dirk van der Merwe, van Malmesbury, en Miemie Bester, van Stellenbosch.

 

Die oorspronklike grafsteen is as een hoeksteen ingebou. Daarop verskyn die volgende woorde:

Ter gedachtenis aan C.P. Hildebrand uit Lichtenburg, Transvaal

Die, als veldcornet in het commando van Maritz alhier op den 12 den Nov. 1901 is gesneuweld, is deze steen opgericht door Afrikaansche vrienden en vriendinnen 1 Tim. 6.12.

 

Op die hoeksteen links van die graf lui dit: 

Ter herinnering aan die veldslag naaste aan Tafelberg in die Tweede Vryheidsoorlog gelewer door kommando’s onder generaals Maritz en Malan.

 

Op die hoeksteen regs van die graf is uitgebeitel: 

 

Skenk ons ook die krag o Heer om te handhaaf en te hou dat die erwe van ons vaad’re vir ons kinders erwe bly.

            

Op die hoeksteen aan die agterkant van die graf staan die volgende woorde:

Hierdie hoeksteen is gelê deur ’n Voortrekkerseun en -dogter namens jong Suid-Afrika, op 16 Des. 1939.

 

Die plaaslike Rapportryerskorps reël sedert 1980 gereeld kransleggings op Geloftedag by die Hildebrand-gedenkteken, waarby die gemeenskap in ’n toenemende mate betrek word.

​