Nasionale Vrouemonument

 

đź“ŤWaar: Monumentlaan, Faunasig, Bloemfontein | Koördinate: -29.1402379,26.2104588

 

Elkeen wat homself ’n Afrikaner noem, en elkeen wat hierdie land waarlik liefhet, betree die terrein van die Nasionale Vrouemonument met eerbied en huiwering, want jy nader een van die aangrypendste gedenktekens in Suid-Afrika.

 

Die wonder, grootsheid en besieling van hierdie monument is reeds opgesluit in die gedagte wat oorspronklik deur president MT Steyn uitgespreek is, naamlik die verering en huldebetoon van ’n volk vir, soos die inskripsie lui, de 26 270 Vrouwen en Kinderen die in de Concentratiekampen zijn omgekomen en die Andere Vrouwen en Kinderen die Elders ten gevolg van den Oorlog 1899–1902 zijn Bezweken.

 

Kort na sy terugkeer uit die buiteland in 1905 het president MT Steyn die behoefte om ’n waardige monument vir hierdie vroue en kinders te laat oprig, uitgespreek. Op 20 Julie 1906 het ’n vergadering in Bloemfontein onder leiding van die gewese Staatspresident plaasgevind waar besluit is om ’n monument op te rig.

 

Ontwerpe is van beeldhouers en argitekte aangevra waaruit die komitee die voorstel van Anton van Wouw en Frans Soff aanvaar het. Teen 7 Julie 1911 kon die werkkomitee berig dat daar £10 236-19-2 (R20 474) ingesamel is.

 

Nouliks tien jaar nadat die Boere-republieke gewelddadig verower is, kon hierdie monument verrys. “Nie uit die rykdom van die rykes nie,”  soos president Steyn dit gestel het, “maar uit die armoed van die armes”.

 

Die plegtige en luisterryke onthulling het op die historiese Geloftedag, 16 Desember 1913, plaasgevind en is deur feesverrigtinge op die twee vorige dae voorafgegaan. Die eer om die monument te onthul, het die “Engel van Liefde”, Emily Hobhouse, te beurt geval. Hoewel sy die reis teen mediese advies na Suid-Afrika onderneem het, moes sy tot groot teleurstelling van almal, in die hartjie van die Karoo na Kaapstad terugkeer en moes mevrou MT Steyn haar taak vervul.

 

Die verrigtinge is die oggend met ’n plegtige diens in die Tweetoringkerk deur die hoogbejaarde en eerbiedwaardige dominee Andrew Murray ingelei. Daarna het ’n optog van nagenoeg een kilometer na die monument gevolg, waar reeds 20 000 feesgangers gewag het. By die monument sou president MT Steyn die hoofrede voer, maar omdat sy swak gesondheid dit nie toegelaat het nie, is dit deur die bekwame Rocco de Villiers voorgelees, wat onder meer die volgende woorde ingesluit het: “Hierdie monument staan nie hier om haat aan te wakker nie, maar om liefde te bevorder, want ek sien die dag kom dat elke deel van die Suid-Afrikaanse volk – van watter oorsprong dit ook mag wees – as dit met die ware Suid-Afrikaanse gees besiel is, die deugde wat deur hierdie monument verewig is, as sy gemeenskaplike erfdeel sal beskou.”

 

Die naald van sandsteen, afkomstig van Kroonstad, wat die blou lug inskiet en die brons beeldegroep en reliëfpanele wat in ’n ringmuur van sandsteen gekoester word, spreek van ’n simboliek wat woorde nouliks kan beskryf.

 

Dit is ’n gedenkteken van ewige hoop. Daarvan getuig die naald wat na Bo wys. Dit is ook ’n herinnering aan menslike worsteling en lyding. Die moeder met haar ontblote hoof en die sterwende kind op haar skoot, met oë wat eintlik nêrens kyk nie, bring die boodskap dat sy nie wanhoop nie, maar dat al die lyding en sterwe sal verseker dat haar volk nie sal sterf nie. Die jong vrou wat by haar staan, se oë is ver op die vlaktes gerig. Ondanks al die vernedering, ellende en lye hou sy haar hoof omhoog asof sy die onsienlike sien – die herrysenis van haar volk.

 

Tesame met die twee sypanele wat hartseertonele in die kampe uitbeeld, word weemoed en hoop tot so ’n patos verhef dat dit nasaat sowel as vreemdeling diep in die hart gryp.

 

Hierdie mees gewyde plek in ons vaderland is ook die rusplaas van die onvergeetlike driemanskap: MT Steyn, die besielende en versiende staatsman; CR de Wet, die onvergelyklike en onverskrokke krygsman; en die vrome godsman, JD Kestell. In ’n nissie aan die voet van die naald rus die as van die “Engel uit die Vreemde”, Emily Hobhouse. Saam in president Steyn se graf rus sy eggenote, Rachel Isabella Steyn.

​