Vegkop, net buite Heilbron

📍Koördinate: 27°28'42.4"S 27°54'46.3"E ; -27.478444, 27.912861

 

Die Slag by Vegkop het op 16 Oktober 1836 plaasgevind. Op hierdie dag het nagenoeg 6 000 Matebeles die laer van Andries Hendrik Potgieter aangeval, waarin 40 weerbare Voortrekkers met hulp van vroue en kinders die aanval suksesvol die hoof gebied het. Al die vee is gebuit, maar met die hulp van die Barolongs het die trekgeselskap teruggetrek na Thaba Nchu van waar die Groot Trek verder ontplooi het. Hierdie veldslag, net soos die Slag by Bloedrivier, besonder betekenisvol vir die vestiging van die Christelike-Westerse beskawing in die binneland van Suid-Afrika.

 

Vandag staan daar vier besondere bakens, benewens die funksionele geboue-kompleks, op hierdie geskiedkundige terrein.

 

Sewe en veertig jaar na die Slag van Vegkop, op 2 Oktober 1883, is daar ’n monument bo-op die kruin van die rant opgerig ingevolge ’n besluit van die kerkraad op 30 Desember 1881. Met verloop van tyd het daar egter ’n begeerte ontstaan om die monument te verskuif na die voet van Vegkop waar die geveg in 1836 plaasgevind het. Aanvanklik is daar nie uitvoering aan die begeerte gegee nie, maar in 1912 het dit werklikheid geword toe meneer C Grove die monument verskuif en herbou het, op die plek waar dit vandag nog staan, tussen die feessaal en die museum. Bo-op die kruin kan die sandsteenblokke waarvan die vorige monument gemaak is, nog gesien word.

 

Die verskuifde monument is ook van sandsteenblokke gebou en die inskripsie daarop is met lood op twee marmertablette gegiet. Op die boonste marmerblok verskyn die volgende woorde: Ter gedachtenis aan die wonderbare redding des Heeren gedaan aan den Heer H. Potgieter, Commandant S. A. Cilliers en de 30 man met hun families te Vechtkop in het jaar 1836. Ps. 118.3. Het is beter tot den Here toevlucht te nemen dan op den mensch te vertrouwen. Opgericht deze 2de October 1883. Hierna volg die name van die lede van die kommissie wat vir die oprigting verantwoordelik was. Op die tweede tablet staan: Moselakatse met zijn duisende werd door Sarel Cilliers met slechts 33 man veerslagen, op 2 Oct. 1836 terwijl 1 137 assegaaien binnen  het lager geworpen waren werden er slechts 14 gewond en 2 gedood van de kaffers lagen er 430 doden in het lager. Ere zij den dappere helden, door ons Heeren macht in staat gesteld. Hunne namen en zullen eere staan al mogen jaren henen gaan. Hun helden moed hier eens betoond, wordt wis door God omhoog beloond.

 

In die Slag by Vegkop het twee Voortrekkers gesneuwel, naamlik Nicolaas Potgieter (seun van AH Potgieter) en Piet Botha (skoonseun). Hulle is albei dieselfde aand naby die laer begrawe. Hierdie graf het vir die nageslag behoue gebly en daar is by elke feesgeleentheid ’n krans op die heldegraf gelê. Die graf is ongeveer 50 tree suid van die feesgebou op Emmanuel geleë. Die oorspronklike grafsteen was van sandsteen. In 1941 het die feeskommissie ’n grafsteen aangebring en dit netjies omhein en in 1955, toe aan die Christelike Jongeliede Debatsvereniging-saal aangebou is, is die oorspronklike grafsteen in die fondament aan die westekant van die gebou ingebou. Met die inwyding van die gerestoureerde Vegkopslagveld op 10 Oktober 1984, het die simboliese herbegrafnis van die gesneuwelde Voortrekkers plaasgevind en is die graf verskuif na ’n posisie net langs die 1912-Vegkopmonument tussen die feessaal en die museum. Die herbegrafnis is in die gietende reën deur dominee Daniël F Erasmus (jr) waargeneem.

In 1938, toe die wa Sarel Cilliers Vegkop aangedoen het, het die feesgangers klippe byeengebring waarmee die Eeufeesmonument gebou is. Hierdie monument is in die vorm van ’n piramide gebou en is soortgelyk aan die talle eeufeesmonumente wat langs die roete van die Simboliese Trek van 1938 opgerig is. Wat hierdie monument by Vegkop uniek maak, is die feit dat een van die klippe uit die Voortrekker Sarel Cilliers se huis by Doornkloof geneem is en as ’n hoeksteen van die monument staan naas die sementblad waarop die spore van die ossewa Sarel Cilliers by die fees van 1938 vasgelê is. Prof. D. F. Malherbe was by dié geleentheid die spreker.

 

Op 16 Desember 1969 kondig die eerste minister, meneer BJ Vorster, aan dat die groot en belangrikste slagveld in Suid-Afrika gerestoureer gaan word. Bloedrivier sou die eerste slagveld wees wat gerestoureer word, daarna sou die slagveld by Vegkop volg. Op 16 Desember 1971 is die gerestoureerde Bloedrivierslagveld ingewy en 13 jaar later, na alle probleme en sorge, die gerestoureerde slagveld by Vegkop.

 

Hierdie grootse projek is begin deur ’n Aksiekomitee onder voorsitterskap van meneer WS Snyman. Die komitee het bestaan uit verteenwoordigers van belanghebbende instansies van Heilbron, soos die verskillende kerke, die Afrikaanse Sakekamer, die stadsraad en die Rapportryerskorps. ’n Oorhoofse komitee, waarvan die administrateur van die Oranje-vrystaat die voorsitter was, het met die owerhede en ook na buite op inisiatief van die Aksiekomitee geskakel. ’n Argiteksplan vir die hele projek is deur die Raad vir Nasionale gedenkwaardighede, aan wie die eiendom behoort, goedgekeur. Verdere goedkeuring het ook gekom van die Slagvelde van Suid-Afrika. In die kompleks wat ’n sinvolle eenheid vorm, word monumentale sowel as funksionele aspekte verteenwoordig.

 

Die indrukwekkende nuwe Vegkopmonument, aan die voet van Vegkop, bestaan uit ’n simboliese klipkoppie waarop ’n Voortrekkerbeeld, in brons gegiet, geplaas is. Die beeld is twee keer lewensgrootte en toon ’n forse Voortrekker met die Bybel in sy linkerhand en in sy regterhand ’n geweer met drie gebreekte assegaaie kruis en dwars voor hom. Die beeld is deur Coert Steynberg geskep terwyl sy dogter, mevrou Isa Wiechers, die ringmuur om die simboliese klipkoppie ontwerp het. Ses brons friese, wat die verloop van die geskiedkundige slap uitbeeld, en wat deur haar gedoen is, is teen die ringmuur aangebring.

 

Die opgestapelde klippe simboliseer die omsingelende bedreiging van destyds en vandag – die totale aanslag van fisieke en geestelike magte teen die Christelike beskawing.

 

Uit hierdie vyandelikhede verrys die triomferende, forse gestalte van ’n leier – weliswaar met een been nog binne die vyandelike omsingeling, maar met erkentlike geloof aan die oorwinning. In sy linkerhand hou hy die Bybel vas en ry regterhand hou die geweer, wat in die onderworpenheid teen die Almagtige God afwaarts wys en waarteen die vyandelike assegaaie breek en knak.

 

Die beeldhouer het met hierdie monument sy laaste groot werk, wat hy sy geloofsmonument genoem het, Efesiërs 6:16, opbeurend vergestalt: “Daarby moet julle altyd geloof as skild in die hand hê, want daarmee sal julle al die brandpyle van die Bose kan afweer”.

 

Die monument is op 10 Oktober 1984 deur die administrateur van die Oranje-Vrystaat, meneer LJ Botha, onthul. Die argitek was meneer JJ Els, ’n oud-Heilbronner.

 

Die administrateur het in sy boodskap gesê dat die huidige geslag nie net vorentoe moet kyk nie, maar ook terug moet kyk. Terug, na waar die spore, die lyding en ontbering, roem en oorwinning van die voorgeslagte lê. Terug, na die gebeurtenisse waaruit die Godsbeskikking so duidelik spreek, terug na die verlede om seker te maak dat ons toekomsvisie steeds op die koers bly.

 

In die boodskap aan die feesgangers, wat in die soewenierprogram opgeneem is, skryf staatspresident PW Botha dat in die gebeure by Vegkop waar mans, vroue en kinders elkeen hul deel moes bydra, ’n parallel tussen die verlede en die hede getrek kan word. Die vyand van vandag het moontlik ’n ander aangesig, maar soos destyds word ons weer fisiek en geestelik bedreig deur magte wat anargie aanblaas, en die totale aanslag van terreur is gemik juis op die onskuldiges, ongeag hul velkleur, geslag of ouderdom. Hy sluit sy boodskap af met die wens: “Mag die monument by Vegkop ons opnuut aanspoor om ons van onderlinge twis en tweedrag te weerhou en die toekoms met moed en vertroue tegemoet te aan in die vaste geloof dat God vir ons sal voorsien.”

 

Die monument is ruim deur Slagvelde van Suid-Afrika gesubsidieer. Die bedrag kon egter nie die totale koste van die gerestoureerde terrein dek nie. Nagenoeg R300 000 moes deur die  Aksiekomitee ingesamel word om die totale koste van net minder as R450 000 te delg. Die koste van die Coert Steynberg-beeld en die friese het R125 075 bedra. Toe die terrein ingewy is, was daar geen agterstallige skuld nie.

 

Jaarliks vind daar op die terrein feeste soos die Krugerfees en Geloftefees plaas. Die inwydingsgeleentheid was juis op Krugerdag en is bygewoon deur nagenoeg 5 000 mense, ondanks gietende reën wat halfpad deur die verrigtinge neergestort het.