Afrikaanse Taalmonument, Paarl

 

đź“ŤWaar: Gabbema Doordriftstraat, Paarlberg | Koördinate: -33.7660895,18.9411269

 

Met die lees van onder meer die volgende woorde op die grafsteen van dominee SJ du Toit in die begraafplaas Kleinbosch, Daljosafat: Vader van die Afrikaanse Taal, is daar in die gemoed van dominee (later doktor) PJ Loots in 1939 ’n saadjie gesaai wat ontkiem het in die stigting op 26 September 1942 van die Afrikaanse Taalmonumentkomitee. Die komitee stel hom onder meer die volgende ten doel: “Dat fondse ingesamel word om ’n waardige taalmonument in die Paarl, waar die beweging vir ontwikkeling van die Afrikaanse taal tot skryftaal en vir die vertaling van die Bybel in Afrikaans ontstaan het, op te rig.”

Die komitee het in April 1965 ’n boukundige prysvraag uitgeskryf vir die ontwerp van ’n Afrikaanse Taalmonument teen die suidhang van Paarlberg, Paarl. Twaalf Suid-Afrikaanse argitekte is uitgenooi en die volgende saamgevatte probleemstelling is voorgehou: “Slegs die visuele, simboliese monument buite die dorp sal die onderwerp van hierdie prysvraag wees. Dit moet die wonder van ons kulturele en staatkundige opbloei versinnebeeld.” Enkele riglyne was ook gestel: “’n Simboliese monument word beoog. Dit sluit ’n abstrakte skepping nie uit nie. Die monument, of deel daarvan, sal sterk belyn moet wees om van veraf sigbaar te wees. Die visuele aspek is van belang. Die funksionele speel geen rol nie. Materiaal en afwerking moet duursaam wees.”

Die sluiting van die prysvraag was op 31 Desember 1965, en die assessore professor WJ du P Erlank (Eitemal), professor AL Meiring en meneer JDP van der Merwe, het die ontwerp van meneer  Jan van Wijk as bekroonde aangewys.

Sy ontwerp is geïnspireer deur die tydlose terrein met ronde granietrotse en Bolandse milieu, CJ Langenhoven se vergelyking van die betreklike skryfgebruik van Afrikaans met ’n snelstygende boog (Versamelde Werke deel 10 bl. 51) en NP van Wyk Louw se “definisie” van Afrikaans, “Laat ons nie roem nie”, uit Vernuwing in die Prosa: “Afrikaans is die taal wat vir Wes-Europa en Afrika verbind; dit vorm ’n oorbrug tussen die groot helder Weste en die magiese Afrika – en wat daar groots aan hulle vereniging kan ontspruit – dit is miskien wat vir Afrikaans voorlê om te ontdek” … en tussen hierdie Weste en hierdie Afrika, staan Afrikaans as ’n “glansende werktuig, ’n tweesnydende swaard”.

“Maar wat ons nooit moet vergeet nie, is dat hierdie verandering van land en landskap as’t ware aan die nuwe wordende taal geslyp, geknee, gebrei het; nuwe woorde, nuwe voorstellings en nuwe beelde laat ontstaan het, ou woorde en voorstellings laat verdwyn het, oor elke riffel en vou van die nuwe wêreldbeeld kon sluit. En so het Afrikaans in staat geword om hierdie nuwe land uit te sê soos geen ander Europese taal nie”. Uittreksels hieruit en ook uit Langenhoven se beskrywing van die snelstygende boog is op ’n bronsplaat voor die monument aangebring.

Die drie suile links by die trapaantrede verteenwoordig tale en kulture van die helder Weste. Die podium regs met drie rondings daarop verteenwoordig tale en kulture van die magiese Afrika – almal hier teenwoordig tydens die wordings- en groeiproses van Afrikaans. Die enkele suil op die trapaantrede verteenwoordig die ingevoerde Maleis.

Waar die twee “smidswinkels” van Helder Weste en Magiese Afrika bo op die trapaantrede bymekaar kom, word ’n “brug” gevorm – die basis van Afrikaans, wat verder ontplooi in die snelstygende boog van die hoofsuil, wat 57 m hoog op eindig in ’n geronde “wortelpunt” – steeds groeiend. Direk benede en binne-in die hoofsuil is ’n borrelende fontein. Die opwaartsstygende plafonwand het langs sy aansluiting met die westemuur ’n reeks openinge waardeur die wisselende lig en son daarbuite allerhande ligpatrone na binne optower. Hierdie lig met die water van die fontein simboliseer verdere groei. Buite en na regs staan die Republieksuil in dieselfde lewegewende waterpoel, gerig na die hinterland van Afrika in ’n houding van tweespraak.

Fondse is verkry van die provinsies en SWA, skole, maatskappye en verskeie ander donateurs. Die Regering het hiertoe ruim bygedra. Die finale boukoste was R713 000 vir ’n struktuur in gegote, versterkte beton van Paarl graniet, gehamer om by die tekstuur van die natuurlike rotse aan te pas. Die aannemer was ATM-konstruksie (Murray & Stewart en Holtzhausen & Hugo) en die boutyd was twee jaar.

Die inwyding, bygewoon deur 40 000 mense, is gehou in die naasliggende amfiteater op 10 Oktober 1975, ’n dag bó 14 Augustus 1975 (100  jaar na die stigting van die Genootskap van Regte Afrikaners) gekies omrede weersomstandighede.

’n Luisterryke program van spraak, koor, orkes en dans is in die loop van die dag en aand aangebied. Die onthullingsplegtigheid is in die namiddag by die monument waargeneem deur die Eerste Minister en Beskermheer sy Edele BJ Vorster. Sy wydingsrede die aand is afgesluit met die aansteek van die hooffakkel met die fakkels wat weke vroeër reeds vanuit SWA, Rhodesië en die vier provinsies gedra is. Hierin is hy bygestaan deur nasate van die Genootskap van Regte Afrikaners van 14 Augustus 1875.

In sy rede het advokaat Vorster die monument gesien as ’n simbool wat ons taal waardig is, en kragtige groei versinnebeeld. Die monument spreek van lewe, groei, bestaan en voortbestaan in die dae waarin ons leef – jou taal wat inhoud aan jou lewe gee. Dit gee stukrag en trots in die uur van jou oorwinning. Dit het stryd geken, was verag en is nie gedoog nie. Maar hy het bly leef, sy krag bewys en geseëvier. Vir so ’n taal is ’n mens lief, vir so ’n taal kan ’n mens ’n monument oprig – dié taal wat ons Afrikaans noem omdat dit in en uit Afrika is en behoort aan die hele Suid-Afrika. Afrikaans spreek die luidste vir ons reg om hier te wees, en Afrika aanvaar hierdeur onherroeplik dat ons ’n reg het in Suider-Afrika. Ons kaart en transport is in Afrikaans geskryf.

Oor die toekoms het die Eerste Minister hiermee afgesluit: “As u my sou vra wat is die antwoord op alles wat vandag gebeur, dan sê ek vir u in die taal van SJ du Toit en sy omstanders toe hulle hul volkslied geskrywe het, is die antwoord: ’n Ieder nasie het sy tyd om te groei en af te slyt. En soos die liewe Heer dit doet, so is dit altyd wys en goed. Daar kom ’n dag vir ons ook, ja, vertrou op God, Suid-Afrika! Want al die nasies het een God, Hy reël ieder Volk se lot. Hy het vir ieder volk sy taal, sy land, sy reg, sy tyd bepaal. Wie dit verag, sal sy straf dra. O God, beskerm Suid-Afrika!”

Die kulturele en estetiese waarde wat hierdie simbool vir die Afrikaanssprekende sowel as vir andertaliges inhou, is enersyds waarneembaar uit die opmerkings in die besoekersboek by die Inligtingskantoor. Duisende mense, plaaslik sowel as van oorsee, besoek jaarliks die monument.

Andersyds tower hierdie produk, gebore uit ons eie bodem, allerlei sienings, gedagtes en verlangens op – hier is “iets wat nie niks is nie”, iets wat aan ons gegee is, hier is my taal oor wie se toekoms ek dink met “hartstogtelike verlange”.

By die trapaantrede is dié geskiedkundige woorde van JH (Onze Jan) Hofmeyr in brons letters aangebring: Dit is ons Erns.

​