

AFRIKANERMONUMENTE
Hierdie webtuiste is moontlik gemaak deur die
FAK se Geskiedenisfonds
Wat is die Geskiedenisfonds?
Afrikaners wil, in die woorde van Herman Giliomee, soos enige ander kultuurgemeenskap net ’n normale geskiedenis hê. ’n Geskiedenis met heldeverhale waarop ons kinders trots kan wees, maar ook met foute waaruit ons kan leer.
Die Geskiedenisfonds het die volgende oogmerke:
-
Bevordering van Afrikanergeskiedenis
-
Herstel en bewaring van bestaande Afrikanermonumente
-
Bou van nuwe monumente om ons geskiedenis te vier
-
Ondersteun gemeenskappe en kultuurorganisasies met geskiedenisprojekte in hulle omgewing
-
Uitbou van die Internetmuseum vir Afrikanergeskiedenis
-
Betrokke by geskiedenisnavorsing, publikasies en konferensies
-
Ondersteun Geloftekomitees
-
Vier van belangrike Afrikanerfeesdae en historiese gebeure
Hoekom bevorder die FAK Afrikanergeskiedenis?
Volgens dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK, is geskiedenis ’n komplekse verhaal met baie perspektiewe en invalshoeke. “Wanneer ’n ongenuanseerde, eensydige meesterverhaal as die enigste waarheid aan ons kinders opgedis word, vervlak geskiedenis tot blote propaganda. Wanneer geskiedenis binne konteks verstaan word en erkenning gegee word aan verskillende perspektiewe oor dieselfde saak, kom daar nie net balans nie, maar ontwikkel begrip en respek vir die uniekheid en diversiteit van stories. Die FAK is eerlik oor ons Afrikaner-invalshoek tot geskiedenis, sonder om ander se stories en perspektiewe te misken.”